Trapkrag bring pret op pragtige Paternoster
Die Burger 29/10/2007 09:09:39 PM - (SA)
Die Burger 29/10/2007 09:09:39 PM - (SA)
Altesame 25 bergfietsryers het die rugbyspelers se Wereldbeker-eindstryd op Paternoster gaan vier met die Pedal Power-toer, skryf UNA BEUKMAN, wat saam getrap het.
KOMBINEER trapkrag en blommeprag. Dis wat die Trapkragvereniging in gedagte gehad het toe hy die Petal Power-fietstoer aan die Weskus gereël het.

Die bewolkte weer het dalk veroorsaak dat daar nie baie blom- gesiggies gesien is nie, maar die Wêreldbeker-eindstryd in Parys het beslis daartoe bygedra om die naweek baie opwindend te maak.
Ons het vir die naweek by die Beach Camp op die strand gekampeer. Die informele tentverblyf met kombuis- en badkamergeriewe, asook ’n lekker beskutte lapa en ’n onderdakontspanningsgebied, het alles bygedra tot ’n wonderlike atmosfeer. Nader aan die see kon jy nie kom nie, want dan moes jy swem.
Die groep trappers het uit verskillende oorde gekom. ’n Paartjie uit Gauteng, Heidi en Johann van Niekerk, het hul eerste huweliksherdenking kom vier, Elaine Crawford (61) het verjaar en Doug Leslie (81) van Somerset-Wes was die oudste deelnemer. Die jongstes wat saam getrap het, was Allan Bredenkamp (29) en Laura Dominguez (28).
Die ander verrassings was Wendy Botha se lekband binne die eerste minuut nadat ons begin trap het en Koos le Grange se ketting en ratte wat hy heeltemal stukkend getrap het teen ’n steil bult.
Ons het ’n fotokompetisie gehou en die wenfoto was van Koos se stukkende ketting en ratkas met ’n bos blomme daarby. Hy het een van die vroue bult-op gestoot en so sy fiets gebreek, want hy het te veel trapkrag gehad.
Op die Saterdagmiddag het ons seelangs deur die reservaat getrap na Tietiesbaai toe en verder. Later die middag het ons by die Paternoster-hotel gaan ontspan met ’n koue bier en moontlikhede ondersoek om die rugbywedstryd op ’n groot skerm te kyk.
Op die spyskaart vir Saterdagaand was heel gepas ’n lekker snoekbraai wat op ’n oop vuur by die lapa gedoen is.
Die organiseerder het gesorg vir lekker pryse wat met gelukkige nommers uitgedeel is, en teen agtuur die aand het ons by die hotel aangemeld om die Springbok- rugbyspan te ondersteun.
Sondagoggend het ons ná ’n stewige ontbyt dorp se kant toe getrap en by die Oep vi Koep-winkel die heel interessantste teetuin besoek.
Verskeie deelnemers het hier inspirasie vir die fotokompetisie gekry. Die opdrag was om ’n kreatiewe foto in te skryf wat iets met ’n fiets en blomme te doen gehad het.
Ons het ook die Cape Columbine-vuurtoring besoek wat in 1936 opgerig is. Die naam kom van ’n seeramp wat in 1829 plaasgevind het en die perseel bied selfs ook gasteverblyf aan.
Sondagmiddag het ons nog ’n laaste draai by Trekoskraal getrap, voordat almal die pad terug huis toe geneem het.
Inderdaad ’n heel lekker naweek. Die trappery was wonderlik en die naweek se grootste teleurstelling was dat die Springbokke ondanks hul goeie sege nie ’n drie kon druk nie.

